(Apologies for being in Afrikaans but english link for this article gives an error…)

STEPHEN NELL
Kaapstad

Gio Aplon sê hy is vir eers klaar met sewesrugby en wil hom weer op die vyftienman-kode toespits.

Dié Springbok-sewesster is die afgelope paar weke een van die Westelike Provinsie se uitblinkers in die Curriebeker-reeks en dra Saterdag op Nuweland weer die nommer 11-trui in die kragmeting met die Leeus.

Aplon kan straks in die tweede helfte heelagter toe geskuif word. Hy hoop steeds hy kan hom op lang termyn daar vestig. “Ek verkies dit om heelagter te speel, maar geniet dit ook om soos nou in twee posisies aangewend te word. Ek verkies heelagter, maar is ook op vleuel gelukkig.

“Dit het goed in sewesrugby gegaan, maar ek wil my nou op die vyftienman-spel toespits en graag die Curriebeker saam met die WP verower.”

Die 26-jarige Aplon het vanjaar se Super14-reeks misgeloop om hom op sewesrugby toe te spits, maar hoop om homself aanstaande jaar teen die Suidelike Halfrond se bestes te meet.

“Ná verlede jaar was dit nie langer vir my ’n begeerte om in die Super14-reeks te speel nie. Maar noudat ek goed speel en my rugby geniet, sien ek weer vir die uitdaging van Curriebeker- en Super14-rugby kans,” sê hy.

“Toe ek in 2007 met Super-rugby begin het, was ek nie die volwasse speler wat ek nou is nie. Ek wou net met die bal hardloop, maar weet nou ook wanneer daar geskop moet word.”

Aplon glo nie die feit dat hy klein is behoort noodwendig op Super14-vlak in sy pad te staan nie. “Kyk maar na Matt Giteau, Shane Williams en Christian Cullen. Al drie het spesiale vaardighede, maar staan steeds hul man op die verdediging.”

“Die mening bestaan dat daar bo-oor ’n kleiner speler gehardloop kan word, maar dis waar jy jouself moet laat geld. Jy moet jou gewig reg gebruik en dieselfde werk as ’n groot speler verrig.”

Daar kan nog vrae oor Aplon se doeltreffendheid op Super14-vlak bestaan, maar daar is geen twyfel nie oor sy vermoë om die pyp op Curriebeker-vlak te rook.

Sy swenklopies kan die WP help om Saterdag deur die Leeus se verdedigingslinie te breek.

“Ons moet net die regte besluite neem oor wanneer om te skop en wanneer om te hardloop,” sê Aplon. “As ons teen ’n opskietverdediging te staan kom, sal ons dalk met meer diepte moet speel. Ons sal maar sien hoe die wedstryd ontwikkel. Hopelik is ons besluitneming in die kol.”

Intussen het Suid-Afrika se sewesbreier, Paul Treu, onderneem om Aplon se toekoms met dié speler en die WP se senior afrigter, Rassie Erasmus, te bespreek.

“Dit sal teleurstellend wees as ek nie langer oor Gio se dienste beskik nie, maar ek sal nooit in ’n speler se pad staan nie,” sê Treu. “Gio was vir ons ’n staatmaker en jy vervang nie maklik spelers van sulke gehalte nie. Ek moet betyds weet wat sy planne is sodat ek na ander talent kan soek. Ek sal met Rassie ’n afspraak reël. Ek glo Gio sal die mas op Super14-vlak opkom as hy ’n regverdige kans kry.”

117 Responses to Gio wil nou net 15-man speel

Users Online

Total 53 users including 0 member, 53 guests, 0 bot online

Most users ever online were 3735, on 31 August 2022 @ 6:23 pm