Die Cheetahs sal waarskynlik vandeesweek weet of hulle die Super15-rugbyreeks met of sonder die dienste van hul Springbok-flank Heinrich Brüssow gaan begin.

Brüssow en sy spanmaats sal vandag hier die eerste keer sedert hul Desember-oefenkamp op Jeffreysbaai saamtrek en sal sommer vroegoggend deur die Cheetahs se mediese span ondersoek word.

Die baljagter was sowat 10 maande uit aksie nadat hy in Maart 2010 ’n ernstige kniebesering in die Cheetahs se Super14-wedstryd teen die Hurricanes opgedoen het.

Hoewel daar nog onsekerheid is oor presies wanneer hy gaan terugkeer, behoort Brüssow volgens Naka Drotské, Cheetahs-breier, in Januarie weer volstoom aan spanoefeninge te begin deelneem.

“Al die ouens wat beseer is en skete het, gaan dadelik môre (vandag) na die dokter toe. Dan kry ek ’n mediese verslag wat presies sê waar elkeen staan. Ons sal dan ook eers oor Heins (Brüssow) se toestand weet,” sê Drotské.

Die vordering van ander beseerdes soos die Bok-vleuel Jongi Nokwe (knieligamente) sal die afrigter ook ’n idee gee hoe hy die lang reeks moet benader.

Die Cheetahs speel reeds op 28 Januarie en 5 Februarie oefenwedstryde teen onderskeidelik die Griffons en Sou¬thern Kings en sal gou weet of Brüssow daarvoor oorweeg kan word.

Die span se eerste Super15-wedstryd is op 19 Februarie teen die Sharks in Durban en hy sal graag dan die Bok wil inspan.

Indien Brüssow nie beskikbaar is nie, sal die Cheetahs se diepte van meet af aan beproef word.

Die ander flanke in die groep is Kabamba Floors, Davon Raubenheimer, Francois Uys, Philip van der Walt, Johan Wessels en Juan Smith.
Intussen is die Cheetahs-slot Nico Breedt se speeldae iets van die verlede.

Breedt het in 2010 sy nek ernstig beseer en is aangeraai om minstens ses maande nie te speel nie, waarna hy weer toetse sou ondergaan.

Volgens die slot, wat intussen gehelp het om die Vrystaat se o.19-span te slyp, is hy reeds voor sy besering nie weer ’n kontrak deur die
Vrystaatse Rugbyunie aangebied nie. Dít en sy besering het saam bygedra tot sy “uittrede”.

Volgens Breedt sou hy boonop waarskynlik nog ses maande moes uitsit.

“Vir my om êrens anders ’n kontrak te kry nadat ek so lank uit was, sou baie moeilik wees.

“Ek het reeds voor die besering nie meer ’n kontrak gehad nie en het daarom besluit om te begin werk.”

Dank aan die Volksblad

One Response to Cheetahs weet gou oor Brüssow se besering

  • 1

    Jammer om van Nico Breedt se loopbaan einde te lees. Hy was n harde eerlike speler. Vrystaat sou hom goed kon gebruik. Sterkte vorentoe Nico.

Users Online

Total 58 users including 0 member, 58 guests, 0 bot online

Most users ever online were 3735, on 31 August 2022 @ 6:23 pm