Die Springbok-flank Juan Smith sal Saterdag hier die Vrystaat se Curriebeker-aanslag in 2010 van voor af lei. 

Dié besielende rugbykaptein van die Vrystaat het vinnig ná onlangse liesoperasies herstel en sal sommer sy span in sy eerste kragmeting – met die Westelike Provinsie – aanvoer.

Smith sou aanvanklik die eerste paar wedstryde van die Curriebeker-reeks misloop. Sy terugkeer is ’n enorme hupstoot en dalk net die doepa wat die Vrystaters nodig het om op ’n wennoot te begin.

Verder behoort WP Nel (vaskopstut, hand) en Skipper Badenhorst (haker, kuit) ook beskikbaar te wees om die Cheetahs se voorspelers meer byt te gee.

Hulle het albei Vrydagaand se verpligte oefenwedstryd teen die Grens in Oos-Londen, waarin die Vrystaat met 45-7 baas was, weens beserings misgeloop.

Daar is verwag dat Smith, wat oor sy pa se afsterwe van sy Bok-verpligtinge vrygestel is, eers in die vierde wedstryd – hier teen die Haaie – na die speelveld sou terugkeer.

Volgens Naka Drotské, breier van die Vrystaat, is Smith nog nie 100% fiks nie, maar behoort sy lieste nie te veel probleme te gee nie.

“Ons loop nie ’n risiko met Juan nie. Dis ’n gilmore groin – hy kan dit nie weer ná die operasie skeur nie. Dis net sy fiksheid wat sal keer dat hy nie ’n volle wedstryd speel nie.

“Juan self voel hy is reg om te speel en hy is sielkundig ’n baie sterk speler.

“Hy sal beslis begin en ons kaptein teen die WP wees.”

Dié flank het reeds in 2010 gewys hoe ’n groot invloed hy op rugby in die land se sentrale streek het.

Hy het hom kort ná sy pa se dood by die Cheetahs in Nieu-Seeland aangesluit en tot hul gelykop-uitslag teen die Chiefs aangevoer. Die span het sy beste Superreeks tot nog toe beklink deur drie agtereenvolgende tuiswedstryde – en altesame vyf kragmetings – te wen.

Behalwe dat hy sy spanmaats as leier inspireer, het dié Bok ondanks sy persoonlike omstandighede in 2010 van die beste rugby van sy loopbaan gespeel.

Hy sal waarskynlik weer vir die Bokke se tuiswedstryde in die Drienasies-reeks beskikbaar wees.

Die Bokke se eerste tuiswedstryd is op 21 Augustus – teen die All Blacks – in die Soccer City-stadion.

Smith is een van 20 gekontrakteerde Bokke wat ná die Drienasies-reeks ’n spesiale kondisioneringsprogram met die oog op aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi moet volg.

Smith en dié spelers sal ook eers ná die Drienasies-reeks vir die halfeindronde van die Curriebeker-reeks beskikbaar wees.

– Die Burger

4 Responses to Juan reg vir stryd teen WP

  • 1

    Juan better get better quick, Francois Louw is busy making the Bokke No 7 jersey his own…… and Dewald Potgieter is not shabby either.

  • 2

    Juan is n yster. Bly om te sien hy speel weer binnekort

  • 3

    Ek het nuus vir Naka. Sover my kennis strek, en ek wil nie negatief wees nie, maar jy kan met Gilore groin nog steeds breuke opdoen as jy te gou begin speel.

  • 4

    Sorry Gilore= gilmore

Users Online

Total 61 users including 0 member, 61 guests, 0 bot online

Most users ever online were 3735, on 31 August 2022 @ 6:23 pm