Die Vodacom Cheetahs-rugbyspan sal sy Springbok-senter Meyer Bosman vandeesweek die ruskans gee wat hy nodig het om sy span Saterdag in Welkom tot een van hul beste Vodacom Super14-reekse te help.

Bosman se borsspier is in sy span se sege van 29-14 oor die Western Force beseer en daar word gevrees dat hy die Vodacom Cheetahs se kragmeting met die Lions sal misloop.

Verder is Louis Strydom (losskakel) vir sy goeie spel vir die Vrystaat in die Vodacombeker-reeks beloon deurdat hy as plaasvervanger in die Vodacom Cheetahs se 22-tal ingesluit is.

’n Amptelike besluit oor Bosman se beskikbaarheid sal eers by Vrydag se kapteinsoefening geneem word en die besoekers sal dus tot op die nippertjie moet wag om te sien wie in die middelveld uitdraf.

Volgens Naka Drotské, breier van die Vodacom Cheetahs, het ’n skandering getoon dat die Bok wel ’n skeurtjie in sy borsspier het, maar hy kan nog betyds herstel.

Daar sal egter nie met hom gewaag word nie.

“As hy reg is, sal hy speel.

“Ons het ná die wedstryd wel agt weke vry, maar hy moet 100% reg wees,” sê Drotské.

Johann Thormahlen

As Bosman nie fiks verklaar word nie, sal Corné Uys in sy plek as binnesenter uitdraf met Wilmaure Louw wat dan as vleuel diens sal doen.

Uys is voorlopig wéér as vleuel, soos teen die Force, ingesluit.

Die Cheetahs se besluit om Bosman genoeg herstelkans te gun spruit waarskynlik daaruit dat daar steeds iets vir hulle op die spel is.

As die sentrale streekspan sy laaste wedstryd van 2010 in die Noordwes-stadion wen, sal dit een van sy beste Super14-reekse tot nog toe wees.

’n Paar weke gelede het dit gelyk of die Cheetahs en die Lions vir die houtlepel gaan uitspeel, maar ’n oorwinning oor die Johannesburgers sal altesame vyf seges aan hulle besorg.

Dit sal hul beste vertoningslys, in 2006, ewenaar en die kroon op ’n moeilike reeks span.

Boonop sal die Lions hul reeks segeloos afsluit as hulle teen die Cheetahs vasval.

Die twyfel oor Bosman se beskikbaarheid het volgens Drotské ook die deur vir Strydom, wat Danwel Demas vervang, oopgemaak.

“As Naas seerkry, het ons net een skopper as Meyer nie speel nie,” het die breier gesê.

“Dit is hoekom ons Louis as plaasvervanger gekies het.”

Strydom, wat weer puik na die pale korrel, was ondanks die Vrystaat se nederlaag teen die Blou Bulle weer ’n uitblinker in die Vodacombeker-eindstryd.

Drotské meen hy speel weer die eerste keer sonder las van ’n besering en is die Vrystaat se eerste keuse op losskakel vir die Curriebeker-reeks.

Die Cheetahs se span is:

Hennie Daniller, Bjorn Basson, Robert Ebersohn, Meyer Bosman/Corné Uys, Corné Uys/Wilmaure Louw, Naas Olivier, Sarel Pretorius, Philip van der Walt, Juan Smith (k), Hendro Scholtz, Barend Pieterse, Izak van der Westhuizen, WP Nel, Skipper Badenhorst, Wian du Preez. PLAASVERVANGERS: Ryno Barnes, Coenie Oosthuizen, Waltie Vermeulen, Davon Raubenheimer, Marnus Hugo, Louis Strydom, Riaan Viljoen.

5 Responses to Bosman dalk uit vir Cheetahs teen Lions

Users Online

Total 32 users including 0 member, 32 guests, 0 bot online

Most users ever online were 3735, on 31 August 2022 @ 6:23 pm