Die Vodacom Stormers het Vrydagaand op dramatiese wyse teen die besoekende Brumbies verloor.

Maar kom ons begin by die positiewe:

Ek het lekker vroeg Nuweland vertrek en dus glad nie probleme met die Vrydagmiddag verkeer gehad nie.  Te danke aan my sjarme het ek parkering binne 100m vanaf die stadion gekry.  En hoe verbaas was ek nie toe ek uitvind dat die hysbak na die losie weer werk vir ‘n verandering.  Ander goeie nuus was dat die bier lekker koud was, alhoewel ek nou al vrede gemaak het met die feit dat SAB alle SA rugby wedstryde borg en ordentlike bier glad nie in die stadions toegelaat word nie!

Nou, terug na die wedstryd.  Die Stormers het teen ‘n spoed afgeskop en gelyk of hulle die Brumbies aan flarde wil speel binne die eerste 10min.  In die 7de minuut is Pieter Louw oor vir ‘n “drie” na ‘n goeie dryfbeweging van ‘n lynstaan af, net om te sien hoe die die TV-skeidsregter, Johann Meuwesen, besluit dat  1/100ste  van die bal die kantlyn geraak het en dat die drie dus nie toegeken kan word nie.  Joe Peterson het die telbord aan die rol gesit in die 14de minuut nadat die Brumbies gestraf is vir ‘n onwettige skrum.   Die Stormers is egter net na die afskop gestraf vir onkantspel en Matt Giteau het die telling in die 16de minuut gelykop gemaak. 

Die Stormers het aanvanklik goed gelyk, maar te veel hanteerfoute en verkeerde opsies het enige kans om ‘n drie te druk in die wiele gery.  Juan de Jongh het ‘n paar keer mooi gebreek, en een van sy breekslae het amper tot tot ‘n drie vir Jaque Fourie gelei.  Al probleem was dat De Jongh nie gesien het Fourie is ongemerk aan sy binnekant nie en het toe eerder besluit om ‘n steekskoppie vir Bryan Habana deur te sit, wat tot niks gelei het nie.

Peterson en Giteau het elk nog ‘n strafskop voor rustyd oorgesit, en die spanne het gaan water drink met die telling op 6 elk.   Na rustyd het elke skopper met nog twee strafskoppe geslaag, en met die telling op 12 elk met 10minute oor het dit beslis gelyk of die wedstryd gelykop gaan eindig.  Dit was so tot George Smith in die 77ste minuut ‘n aangee van Brok Harris onderskep het om onder die pale te gaan druk.  Menigte Stormers ondersteuner se harte het in hul skoene geval toe Giteau die doelskop oorklits, en ‘n paar veraaiers het tot opgestaan en die stadion verlaat met nog 2minute se speeltyd oor. 

Maar toe ruk die Stormers self ‘n haas uit die hoed deur ‘n strafskop af te dwing en Pieter Louw het die keer vanaf ‘n aanvallende lynstaan af deurgebars om te gaan druk.  Pieterson kon egter nie die drie verdoel nie, en die eindfluitjie het geblaas met die telling op 19-17 vir die Brumbies.

Allister Coetzee was na die tyd baie teleurgesteld in die verloor en voel die Stormers het nie goed genoeg gespeel om te wen nie.  Hy het toegegee dat die Brumbies takties beter as die Stormers gespeel het en dat hulle op tye tipiese toetsrugby gespeel het.    Andries Bekker het erken dat die Stormers se taktiese skopwerk nie op standaard was nie en dat hulle heeltemal te veel hanteerfoute gemaak het.   Die Stormers sal ook moet werk aan hul dissipline.  Geen span wat 14 strafskoppe in ‘n wedstryd afstaan kan gelukkig daaroor voel nie. 

Andy Friend, Brumbie afrigter, was baie verlig oor die wen, veral na hul pakslae laasweek teen die Bulls.  Hy het verduidelik hoeveel Matt Toomua gehelp het om die Stormers se wedstryf te ontleed en ook lof gegee aan al die senior spelers in die span.  Volgens hom het hulle vooraf besluit om baie konserwatief te speel.    Hy is ook bekommerd oor al die strafskoppe en voel dat daar nog baie werk voorlê voor sy spelers die nuwe reëltoepasing onder knie het. Steven Hoiles, Brumbie kaptein, was baie tevrede met sy span se vertoning en hulle sien uit daarna om volgende naweek teen die Lions op hul tuisveld te speel. 

So waarnatoe van hier vir die Stormers?  Wel, eerstens sal hulle moet werk aan hul hantering en besluitneming op die veld.  Die skrums en lynstane is sterk, alhoewel nie oorheersend nie.  Dissipline sal beslis moet verbeter as hulle wedstryde wil wen.  Joe Peterson is ‘n uitstekende heelagter, maar sy skopskoen het hom Vrydag in die steek gelaat.   Hy het met 3 van sy probeerslae pale  toe misluk, waar Giteau met al syne geslaag het.  Lynskoppe en taktiese skoppe was oor die algemeen ook power.  

Die 10, 12, 13 kombinasie vlot ook nog nie, met weinig goeie bal wat by die vleuels uitkom.  Dit is dalk tyd vir Coetzee om veranderinge hier aan te bring en enige een van Lionel Cronje of  Willem de Waal mag dalk volgende week die nommer 10-trui oor die kop trek met Grant wat binnesenter toe skuif.  Ek voel jammer vir De Jongh, maar sy besluitneming op binnesenter is net nie goed genoeg vir rugby op die vlak nie!

2 Responses to Wedstrydopsomming – Stormers 17 / Brumbies 19

  • 1

    Hierdie verloor het die Stormers se play-off kanse baie skade gedoen.

    Ek vermoed die Bulls gaan weer alleen die SA-vlag in die semi’s dra.

  • 2

    ❓ Hoekom wil niemand hier iets se nie ❓

Users Online

Total 106 users including 0 member, 106 guests, 0 bot online

Most users ever online were 3735, on 31 August 2022 @ 6:23 pm