Was hierdie nie veronderstel om die Kaap van Vleuels te wees nie?
Dís die vraag wat die Westelike Provinsie se senior professionele rugby-afrigter, Rassie Erasmus, hom afvra noudat hy en sy afrigtingspan daarin geslaag het om ’n mededingende pak voorspelers te vestig.


“Ek het verwag daar sou ’n groter vloei van vleuels gewees het. Voor ek Kaap toe gekom het, het ek gedink dis die een probleem wat ek glad nie sal hê nie. Ek het gedink my probleem gaan wees om ’n pak bymekaar te kry, maar dis nou andersom. Daar kom baie voorspelers deur,” sê Erasmus.

Gio Aplon en Tonderai Chavhanga word môre teen die Boland-Kavaliers in Wellington as vleuels ingespan. Die Fidjiaan Sireli Naqelevuki is nog op die krukkelys.

Die WP het wel die belowende o.21-ster JJ Engelbrecht op sy plaasvervangerbank gekies.

Allister Coetzee, wat die WP in die Curriebeker-reeks slyp, hoop om Engelbrecht se ontwikkeling ’n stap verder te neem deur hom speelkans te gee indien die situasie op die veld in die Boland-stadion dit toelaat.

“Ek het nog altyd gesê daar moet ’n goeie balans tussen ervaring en jeug wees. Ons het reeds o.21-spelers soos Dewaldt Duvenage op skrumskakel en Juan de Jongh op senter. As jy dán vir JJ laat begin, het jy ’n baie jong agterlyn,” sê Coetzee.

“Hierdie is miskien die regte tyd om JJ se spoed van die plaasvervangerbank af te gebruik. Hy het ’n baie goeie wedstryd teen die Luiperds se o.21-span gehad en hy kan met sy fisieke benadering soos Sireli baie verdedigers besig hou.”

Intussen het Nick Koster, wat nog aan die herstel is van ’n kniebesering wat hy in die Super14-reeks opgedoen het, vir Erasmus laat weet hy wil graag aanhou vleuel speel eerder as om slegs weer as ’n losvoorspeler oorweeg te word.

“Nick het ons kom sien en ons het lekker gesels. Hy het dit só op die vleuel geniet dat hy gretig is om vir eers met die skuif te volhard,” sê Erasmus.

Volgens hom hou die WP ’n ogie op die talent onder die top-klubs, maar beamptes is ook welkom om uitsonderlike talentvolle spelers aan te beveel indien hulle meen dié spelers word misgekyk.

“As iemand by die klubs weet van ’n begaafde speler wat ons miskyk, kan hulle ons inlig. Ons sal spelers wat benoem word deur hul passies sit. Ons het al na vyf of ses gekyk, maar niemand het die paal gehaal nie.”

Erasmus sê hy het nie ’n spesifieke profiel van ’n vleuel in gedagte nie, maar kleiner spelers moet besef dat die behoud van balbesit in kontaksituasies belangrik is.

“ ’n Klein, ligte speler wat slegs kan afrond, kan in moeilike situasies op Super14-vlak verrinneweer word.

“Die tendens is om groter spelers met vaart te kies, maar dis nie al waaroor dit gaan nie,” sê hy.

“Juan de Jongh het byvoorbeeld nie die bou van ander groot senters nie, maar hy het die vermoë om die bal lewend te hou. Dis waar grootte en vaardighede hande neem.”

KingPaul

34 Responses to Vleuel-skaarste in Kaap

Users Online

Total 38 users including 0 member, 38 guests, 0 bot online

Most users ever online were 3735, on 31 August 2022 @ 6:23 pm