Reniel HugoDie oud-Matie Reniel Hugo is gister aangewys as UP-Tuks se FNB Varsitybeker kaptein vir 2014.

Die 23-jarige Hugo, wat vir sy skitterspel vir Maties in die 2013-kompetisie met die Beste Voorspeler-toekenning beloon is, is in 2014 ‘n nagraadse student aan die Universiteit van Pretoria. Die Universiteit van Stellenbosch ken op 12 Desember ‘n BCom-graad aan hom toe.

“My grootste enkele begeerte is om in ‘n Varsitybeker-eindstryd aan die wenkant te wees, wat my nie in 2012 en 2013 beskore was toe ek vir Maties teen Tuks gespeel het nie.

“My honger is dus groot en UP-Tuks kan op my staatmaak dat ek eerste uit die loopgraaf sal wees wanneer ons seisoen op 3 Februarie met die tuiswedstryd teen UJ afskop,” het Reniel gesê.

“Ek voel gevlei dat coach Pote (Human, UP-Tuks se nuwe hoofafrigter) die kapteinskap aan my toevertrou het. Soos Maties, het ook Tuks ‘n ryk rugby-kultuur en -tradisie.

“Ek beskou dit daarom as ‘n reuse-eer en voorreg om die nuwe Tuks-kaptein te wees. Die goeie tye wat ek by Maties gehad het, sal altyd deel van my rugby-herinneringe wees, maar nou wag nuwe, opwindende uitdagings op my by TuksRugby en aan die Universiteit van Pretoria, op die veld en in die lesingslokale.””

“Reniel het sedert hy in November vir die voorseisoense voorbereiding by ons aangesluit het, groot indruk gemaak met sy sterk natuurlike leierskap. Hy het boonop waardevolle Varsitybeker-ondervinding. Hy lei absoluut deur voorbeeld en dwing respek af by die ander spelers, onder wie daar ander sterk leiers is wat hom sal bystaan,” het Human opgemerk.

“Ek sal soos Reniel ook in my eerste jaar aan die stuur van afrigting by UP-Tuks baie graag die Varsitybeker omhoog wil hou. In Reniel het ek dus ‘n groot bondgenoot.”

Op moontlike kritiek uit eie geledere om ‘n oud-Matie as kaptein aan te wys, het Human geantwoord: “Die feit dat dat hy nog in die 2013-eindstryd vir Maties teen UP-Tuks gespeel het, is water onder die brug. Hy is nou ‘n Tukkie en myns insiens die beste keuse vir die kapteinskap. Ek het groot vertroue in sy vermoëns as sowel leier en speler.”

Users Online

Total 137 users including 0 member, 137 guests, 0 bot online

Most users ever online were 3735, on 31 August 2022 @ 6:23 pm