n Artikel vanaf die FNB Varsity Cup website.  Studente rugby was nog altyd lekker om te kyk, nou met die FNB geborgde Varsity Cup kry ons elke Maandag 4 wedstryde .

Laasweek het ons baie  gehoor van Boom Prinsloo die man wat 4 driee ingeryg het, wie is die man? Lees hieronder die onderhoud wat met hom gevoer is.

Hy is gedoop Johannes Gerhardus en sy ouers noem hom Johan, maar vir die res is hy bekend as Boom. Hierdie 21-jarige losvoorspeler het verlede Maandag in ‘n FNB Varsitybeker-wedstryd, aangebied deur Steinhoff Internasionaal, vier keer agter die doellyn gaan kuier; wat ‘n gesamentlike Varsitybeker-rekord is.

Dit is ongelooflik om te glo dat dit maar slegs sy tweede wedstryd in ‘n Shimla-trui was – ‘n trui waarin albei sy oupa en pa op hul dag gespeel het.

Boom was verlede jaar lid van die seëvierende Vrystaat o.21-span en in 2007 was hy ‘n flank in die Grey Kollege-span wat as een van die beste skoolspanne nóg gereken is. Hy het ook vir Vrystaat in daardie jaar se Cravenweek uitgedraf wat alle teenstand uit die pad gevee het!

varsitycup.co.za wou die volgende by hom weet:

(1) Varsity Cup (VC): Waar kom jou naam, ‘Boom’, vandaan?
Boom Prinsloo (BP): “Die bynaam Boom kom vanaf die familieplaas ‘Boomplaas’ in die distrik Bultfontein waar my pa grootgeword het. Sy bynaam was ‘Boom’ wat vanaf sy skooljare af gekom het. Gevolglik word ek ook van kleins af so genoem. My ouers noem my egter ‘Johann’ en hulle is waarskynlik die enigstes wat my so aanspreek. Hulle noem my oudste broer weer ‘Boompie’. Lekker deurmekaar spul né?!”

(2) VC: Wat is jou grootste teleurstelling in jou rugbyloopbaan tot dusver?
BP: “Ek het verlede jaar die hele seisoen vir Vrystaat se o.21’s gespeel, maar moes toe my plek in die span vir die eindstryd prysgee omrede die senior Cheetahs se Springbokke terug was en almal afgeskuif het.”

(3) VC: Het jy al voorheen vier drieë in ‘n wedstryd gedruk?
BP: “Ja – in ‘n wedstryd verlede jaar vir Vrystaat se o.21’s teen Boland het ek ook vier keer gaan druk.”

(4) VC: Watter aspek van rugby geniet jy die meeste?
BP: “Die adrenalien wat gepaardgaan met ‘n aanvalsbeweging op vol spoed of ‘n great tackle.”

(5) VC: Wat sal jy as jou sterkpunte beskryf?
BP: “Om met bal in hand die opposisie te kan aanvat.”

(6) VC: In watter rugby stadion, enige een in die wêreld, sal jy die graagste in wil speel?
BP: “Die Millenium Stadion in Cardiff, Wallis.”

(7) VC: Wat is die waardevolste rugby advies wat jy al gekry het?
BP: “As elke speler op die veld draf en alles vir sy spanmaats gee, gebeur dinge vanself.”

(8) VC: Is daar enigeen in jou familie wat ook in rugby (op sport) uitgeblink het?
BP: “My oupa Hendrik Prinsloo het in 1948 vir Vrystaat rugby gespeel. My pa, Boom Prinsloo, het weer in 1980 vir Vrystaat se o.20-span uitgedraf.”

(9) VC: Wat kan ons verder van Shimlas in die kompetisie verwag?
BP: “Hardloop rugby, gekombineer met dodelike verdediging!”

(10) VC: Het jy enige rugby-bygelowe?
BP: “Nee, geen.”

Deur Ruan Bruwer

Users Online

Total 59 users including 0 member, 59 guests, 0 bot online

Most users ever online were 3735, on 31 August 2022 @ 6:23 pm