Steval PumasDie Pumas van Suid-Afrika het so byna by die Superrugby-agterdeur ingeglip, maar dié unie se plan om die OP-Kings se plek in volgende jaar se kompetisie te “kaap”, is ter elfder ure deur Cheeky Watson gefnuik.

Rapport het na bewering betroubaar verneem dat Hein Mentz, die Pumas se president, ’n volledige sakeplan aan die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU) voorgelê het, waarin hulle aanbied om die Oos-Kapenaars, wat reeds maande lank verlam is deur ’n geldkrisis, in 2016 se toernooi te vervang.

Dié plan sou die Kings “tyd gee om hul geldsake uit te sorteer” en dié franchise terug op die been te kry.

Dít het onder meer ’n groot borgskap en beloftes van geleenthede vir spesifiek swart spelers bevat en het glo die steun van die Mpumalanga-regering gehad.

Die Kings sukkel reeds maande lank om hul spelers te betaal, met ’n halfdosyn sterspelers wat die afgelope 2 weke bande met dié unie verbreek het.

Watson, die Kings-president, het dié plan egter verwerp en het kort daarna SARU se hulp ­ingeroep.

Dié beheerliggaam het op sy beurt toegesien dat die Kings se belowende jong spelers wel hul agterstallige salarisse ontvang om sodoende ’n verdere uittog te keer.

Mentz wou by navraag nie dié plan bevestig of ontken nie.

“Al wat ek kan sê, is ons ondersteun SARU se ingryping en planne by die Kings,” het Mentz gesê.

 

Rapport het die volgende onthul:

  • SARU en Watson sal môre ’n krisisvergadering hou om te praat oor dié beleërde unie se geldsake asook die voortdurende kommer oor die Kings se vermoë om mee te ding in volgende jaar se Superreeks.
  • SARU het reeds verlede jaar sy aandele in die Kings verkoop en hoewel hy aanvanklik nie “wou inmeng” in die sage nie, kon hy weens die politieke steun wat die Kings geniet, nie toelaat dat die span tot niet gaan nie.
  • Dié liggaam se “mobi-eenheid” sal deel uitmaak van die ingrypaksie. Rassie Erasmus, ­SARU se direkteur van rugby, en sy span afrigters sal ’n hand bysit om die Kings in die volgende paar maande vir die Superreeks gereed te kry.
  • Van die ander Suid-Afrikaanse Superspanne sal ook aangesê word om spelers aan die Kings te “leen”.
  • Die veelsydige Springbok Francois Hougaard sal hom glo by die Kings aansluit wanneer hy nie by die Springbok-Sewesspan betrokke is nie.
  • Die Bulle, aan wie Hougaard tot onlangs verbind was, wou glo graag sy dienste behou, maar SARU het volgens inligting soveel as R 100 000.00 per wedstryd geëis om hom aan dié unie beskikbaar te stel. Hougaard het ’n kontrak by die Blitsbokke geteken, nadat ’n vroeëre ooreenkoms met ’n klubspan in Japan skipbreuk gely het.
  • Die Kings was byna sy hoofafrigter, Brent Janse van Rensburg, kwyt, met 2 provinsiale spanne en ’n universiteitespan wat in sy dienste belangstel. Janse van Rensburg self is glo 4 maande laas betaal, maar is die afgelope week deur Watson “aangewys” as die Southern Kings se afrigter vir die Superreeks.

 

Rapport

Users Online

Total 47 users including 0 member, 47 guests, 0 bot online

Most users ever online were 3735, on 31 August 2022 @ 6:23 pm