Teboho Mahoje

Teboho ‘Oupa’ Mohoje in aksie in die toets teen Skotland vroeër vanjaar in Port Elizabeth. Hy het daar van die plaasvervangerbank af net ’n rukkie speelkans gekry.

Teboho ‘Oupa’ Mohoje – en nie die veteraanlosvoorspeler Schalk Burger nie – in die Springbokke se beginspan Saterdag op Nuweland teen die Wallabies.

En Francois Hougaard op skrumskakel, terwyl Cobus Reinach wat van die bank af in sy debuuttoets gaan kans kry.

Dít lyk na die plan van die Springbokafrigter, Heyneke Meyer, om die Suid-Afrikaners se kwynende aanspraak in die Rugbykampioenskap te behou, Mohoje (24), wat 1.93 m lank is en die skaal op 107 kg laat kreun, sal sy eerste kans in die beginspan in die plek van Francois Louw kry.

Louw het in verlede naweek se verloortoets teen die All Blacks senuwees in sy nek vasgeknyp en sal eers weer in November vir die Bok-toer na Europa beskikbaar wees.

Hougaard sal in die plek van Ruan Pienaar opdraf, wat ook in Wellington beseer is.

Mohoje se insluiting is nóg ’n hoofstuk in sy sprokieseisoen. Dié Vrystaatse kantman het vroeër vanjaar in Port Elizabeth ’n rukkie teen Skotland gespeel.

Rapport

Meyer sal voorts by die Bok-span hou wat met 10-14 teen die All Blacks verloor het.
Hy het reeds te kenne gegee dat kontinuïteit sy wagwoord sal wees – en dís straks die beste uitweg in ’n seisoen waar beserings sy lewe knaend vergal het.

Daarom sal Hougaard, met 30 toetse agter sy naam, bó die Haaie se kwiksilwer jong Reinach in die beginspan wees – al het Hougaard in Wellington verroes gelyk en veral met sy taktiese skopwerk gesukkel.

As Reinach op Nuweland kans kry om te speel, sal hy in die voetspore van sy pa, Jaco, volg, wat in 1986 Springbok-vleuel was.

Burger is in Louw se plek na die Bok-groep ontbied, maar hy het Vrydagaand nog vir sy Japanse klub, Suntory Sungoliath, uitgedraf. Meyer het sterk klem op Burger se veelsydigheid gelê, hoewel dit stief sal wees teenoor Warren Whiteley, wat skaf­lik in Australasië vertoon het.

JP Pietersen is as plaasvervanger vir Pienaar nader geroep, wat kan beteken hy is geoormerk om op die reserwebank in die plek van Damian de Allende te sit.

Meyer het vroeg verlede week sterk geskimp dat Mohoje se groot dag op hande is.

“Oupa is ’n sterk baldraer, vinnig en hardwerkend op die verdediging, maar hy is ook ’n uitstekende keuse agter in die lynstane,” sê Meyer in ’n verklaring.

Hy het vroeër onder skoot gekom toe hy die veteraan Juan Smith in Salta teen die Poemas ten koste van Mohoje ingespan het. Smith het ’n nagmerrietoets beleef, maar die Bok-pak was in Argentinië mank aan ervaring – en met Victor Matfield weer meesterlik, is daar genoeg ouer koppe op die veld dat Mohoje sy ware kan uitstal.

Met net die toets teen die Wallabies en ’n week later die All Blacks op Ellispark oor, sal die Bok-bestuur nie oorweeg om enige spelers ’n ruskans te bied nie. Gekontrakteerde Springbokke hoef ná die Kampioenskap nie weer tot die November-toer te speel nie.

Dit beteken die Bok-voorry sal dieselfde as in Wellington lyk.

Bok-span: Reinach op bank en . . .

Willie le Roux; Cornal Hendricks, Jan Serfontein, Jean de Villiers, Bryan Habana; Handré Pollard, Francois Hougaard; Duane Vermeulen, Teboho Mohoje, Marcell Coetzee, Victor Matfield, Eben Etzebeth, Jannie du Plessis, Adriaan Strauss, Tendai Mtawarira. PLAASVERVANGERS: Bismarck du Plessis, Trevor Nyakane, Marcel van der Merwe, Lood de Jager, Schalk Burger, Cobus Reinach, Pat Lambie, JP Pietersen

2 Responses to Die Rugbykampioenskap: Springbokke – Oupa kry sy kans

Users Online

Total 37 users including 0 member, 37 guests, 0 bot online

Most users ever online were 3735, on 31 August 2022 @ 6:23 pm