Ask-Ads Left

Francois Steyn

Frans Steyn wil nie n “GELDJAGTER” genoem word nie.

​”Ek is nie ’n kind nie.”

Só het Frans Steyn glo op die laaste krisisvergadering tussen hom en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU) gesê voordat hy opgestaan, uitgeloop en die Springbok-groep vaarwel geroep het.

Dit was nadat meer as een vergadering tussen hom en SARU oor sy terugkeer uit Frankryk skipbreuk gely het.

SARU het aanvanklik in 2012 skriftelik ingestem om Steyn se kontrak met ’n Franse bemarkingsmaatskappy uit te koop sodat hy weer heeltyds vir Suid-Afrika beskikbaar kon wees. SARU het die paaiemente daarvoor stiptelik betaal – tot in Januarie 2013 toe betalings skielik eensydig gestaak is.

 

Sport24

Steyn het op 10 Junie vanjaar – in die week van die Bokke se eerste toets van die jaar in Durban teen Wallis – besluit om aan die span te onttrek. ’n Vergadering vroeër daardie week tussen hom en sy agent, ­Gerrie Swart, en SARU se regsverteenwoordiger, Frikkie Erasmus, het skeef geloop nadat ’n soortgelyke vergadering in Mei ook skipbreuk gely het.

 

Ingeligde bronne, wat oor eerstehandse inligting beskik, sê:

  • SARU het in Januarie 2013 eensydig opgehou om die ooreenge­kome paaiemente aan die Franse bemarkingsmaatskappy te betaal. Die Franse het Steyn daarna met regsaksie gedreig;
  • SARU het ná ’n voortslepende twis met Steyn besluit om ’n enkele groot bedrag in sy rekening te deponeer sodat hy dit regstreeks aan die Franse kon betaal;
  • Steyn is nie geken in dié besluit nie en was weens belastingimplikasies ontevrede daaroor; en
  • Steyn het ’n Springbok-kontrak tot en met aanstaande jaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi van die hand gewys omdat dit onder meer geen verwysing na die terugbetalings aan die bemarkingsmaatskappy bevat het nie.

 

Andy Colquhoun, SARU se hoof van korporatiewe dienste, wou geen vrae oor hul twis met Steyn en die bewerings oor terugbetalingsreëlings beantwoord nie. Volgens hom is daar geen uitstaande kwessies tussen SARU en Steyn nie en was die vroeëre onenigheid “ ’n dispuut oor meganismes”.

“SARU is nie in die gewoonte om besonderhede van werknemers se dienskontrakte in die openbaar te ontleed nie.” Hy wou ook nie sê of SARU sedert Junie in verbinding met Steyn was nie.

Steyn is sedert die Haaie se nederlaag in die halfeindstryd van die Super Rugby-kompetisie onbereikbaar. Daar word verneem hy het tyd op sy ouerplaas in die Oos-Vrystaat deurgebring. Hy is ook besig om sy visum vir Japan, waar hy voortaan vir die span van Toshiba Brave ­Lupus gaan speel, te reël.

Volgens bronne na aan dié senter het dit vir hom nooit oor geld gegaan nie, maar oor die beginsel dat ooreenkomste eerbiedig moet word.

Hy is ook lugtig om as ’n geldjagter bestempel te word en is steeds gretig om vir sy land uit te draf.

Hy is egter glo weens dié gemors jammer hy het ingestem om na Suid-Afrika terug te keer.

53 Responses to SA Rugby: Só boor Saru vir Frans Steyn


RugbyIQ


Bam Advert