Bryan Habana

Bryan Habana

Jan Serfontein, Morné Steyn, Adriaan Strauss, Victor Matfield en Marcell Coetzee ín. Damian de Allende, Handré Pollard, Bismarck du Plessis en Lood de Jager uit.

Moenie verbaas wees indien Heyneke Meyer dié verrassende skuiwe maak in sy Springbokspan wat die Wallabies Saterdag in Perth in die Rugbykampioenskap pak nie.

Rapport

Alles dui daarop dat daar vier veranderings in die opdrafspan gaan wees, vergeleke met die span wat in Salta so gesukkel het om Argentinië te klop.

Meyer wou gister in ’n gesprek met Rapport nie die sluier lig oor die span wat teen die Aussies gaan begin nie, maar hy het heel insiggewend gesê: “As daar veranderings gaan wees, moet dit nie as paniek beskou word nie.

“Dit gaan oor noukeurige beplanning in ’n reeks soos hierdie. Dit is van kardinale belang om spelers vars te hou. Ouens wat teen Argentinië gespeel het en dalk nie teen Australië in die beginspan gaan wees nie, moet besef ek gooi hulle nie weg nie,” sê Meyer.

“Dis egter belangrik om in wegwedstryde te roteer waar ons oor soveel tydsones vlieg – en om in elke wedstryd te weet die ouens wat speel, is vars en slaggereed vir die aanslag.

“Dit is vir ons belangrik om deur hierdie twee toetse in Australasië te kom.”

Meyer besef net so goed soos enigeen wat die spel volg dat daar nou maar eenmaal geen plaasvervanger vir ervaring is nie – en dat in die drukkokersituasie wat in Perth en die daaropvolgende week in Wellington teen die All Blacks sal heers, dit die ou hande sal wees op wie se knoppies gedruk moet word.

Daarom sal die nommer 10-trui weer aan Steyn toevertrou word, terwyl Matfield as slot by die jong De Jager sal oorneem.

So opwindend soos Pollard is en met ’n wonderlike toekoms in die Bok-trui wat vir hom voorlê, sal Steyn ’n rustigheid bring wat nodig sal wees teen die Aussies. Veral met die moontlikheid van reën wat vir Saterdag voorspel word, sal sy taktiese skopwerk van groot waarde wees.

Serfontein sal straks sy gróót kans langs die kaptein, Jean de Villiers, in die middelveld kry. De Allende het nie rêrig in die wedstryd in Salta oortuig nie.

Meyer sal voorlangs die puik vertonings van Strauss en Coetzee van die plaasvervangerbank af teen die Argentyne met plekke in sy beginspan moet beloon.

Die broers Du Plessis, Bismarck en Jannie, is ooglopend voos gespeel en moet rus kry.

Die probleem wat Meyer wél het, is dat sy vaskopkeuses ál hoe dunner word. Die verlies van Frans Malherbe is ’n groot terugslag, want hy sou gewis in Jannie se plek gespeel het.

Of Meyer die groentjie Marcel van der Merwe, wat nog net die toets teen Skotland in Port Elizabeth agter die blad het, sal laat begin, sal gesien moet word.

Coetzee sal ná sy pronk-vertoning in Juan Smith se plek op flank sak.

“Ek dink dit gaan ’n ongelooflike toets wees, want albei spanne is in hul laaste toetse seergemaak,” sê Meyer. “Die Aussies sal baie gevaarlik wees ná hul pak slae teen die All Blacks.”

Bryan Habana word Saterdag in Perth teen Australië net die vierde Springbok nóg wat die Groen-en-Goud 100 keer oor die kop getrek het.

Suid-Afrika se voorste driedrukker van alle tye sluit hom daarmee aan by Victor Matfield (113), John Smit (111) en Percy Montgomery (102).

Heyneke Meyer, die Springbok-afrigter, het Habana gister as ’n “fenominale speler” beskryf.

“Hy is iemand wat altyd sy beste in die Springboktrui lewer.

“Ek het hom eerlikwaar nog nooit swak sien speel vir die Springbokke nie.

“Hy is ook ’n wonderlike ambassadeur vir Suid-Afrika van die veld af en of ons nou in Argentinië, Australië of waar ookal speel, is hy die herkenbaarste van al ons spelers – en word hy deurentyd deur die ondersteuners toegesak.

“Bryan het ook altyd tyd vir almal en staan geduldig en deel handtekeninge uit.

“Hy het altyd tyd vir van die jongste tot die oudste en staan gereeld reg met ’n glimlag,” vertel die Bok-afrigter.

“Ek en Bryan het nog altyd ’n ongelooflike werksverhouding en ek weet waar om op sy knoppies te druk. Ek daag hom voortdurend uit en plaas druk op hom om die beste te bly. Hy floreer deurgaans op dié uitdaging,” sê Meyer.

3 Responses to Die Rugbykampioenskap: Springbokke – Koppe kan rol & Habana bereik mylpaal

Users Online

Total 16 users including 0 member, 16 guests, 0 bot online

Most users ever online were 3735, on 31 August 2022 @ 6:23 pm