Frans LudekeVoor mense aanstoot neem, hierdie is net ‘n grappie, dis nie ernstig of waar nie!

Beste Murray,

Ek is op die oomblik effens depro na vanjaar se Superrugbyseisoen. Wel, die seisoen is amptelik natuurlik nie verby nie, maar vir my en die Bulle is dit natuurlik neusie verby. Ek was in ’n stadium lus om myself aan ’n dakbalk in my garage op te hang, maar as ek eerlik moet wees, het die Sharks se pak slae in Christchurch laasweek my minder kak oor myself laat voel.

Source: MeneerTV.

Laat ek die eerste ou wees om te erken dat die Bulle vanjaar nie baie goed gedoen het nie. Nes die jaar voor dit. Maar daar was verskeie redes hiervoor. Ja, daar was beserings. Maar daar was ook ander dinge soos Fikile Mbalula wat my nou en dan laat in die aand, vrot van die Johnnie Walker Black, gebel het en wou weet waarom Chiliboy Ralepelle nie speel nie. En dan moet ek elke keer vir hom vertel dis omdat Chiliboy nou in Frankryk speel en dit dus eintlik donders onmoontlik is om hom te kies, selfs al wil ek.

Dan het hy gewoonlik sy moer vir my gestrip en vertel dat hulle ons vorentoe gaan dwing om in groen te speel omdat dit die tradisionele kleur van Hoofman Tshwane se rugbyspaan 300 jaar gelede was.

Daar was natuurlik ook ander kak soos die feit dat Gert Smal nou as direkteur van afrigting by die WP aangestel is. Om mee te begin gaan dit nou éérs moeilik wees om Kaapse talent soos Callie Visagie, Francois Hougaardt, Handré Pollard, JJ Engelbrecht en Jurgen Visser te koop. Boonop het Vlok Celliers nou ook teruggeneuk Kaap toe en ek wag heeltyd vir Pieter Rossouw om met sy hartseer gesig hier in te loop en vir my te vertel dat hy “wil teruggaan Kaap toe”.

Ek het diep gaan dink oor ons penarie en afwaartse prestasiekurwe en dis vir my duidelik dat ons spelpatroon nie werk nie. Ons kort vernuwing en vars idees. Want hierdie onlangse pogings om met die bal te hardloop en senters wat slim passes probeer maak, is sommer kak.

Frans Ludeke

“Ha, en julle het gedink ek het nie meer ‘n meesterplan nie!”

Ha, en julle het gedink ek het nie meer ‘n meesterplan nie!

My meesterplan lyk só: Ons gaan teruggaan na wat altyd vir ons gewerk het. Victor het reeds sy comeback gemaak en Bakkies is mos weer woelig verby.

Nou kort ons nog net vir Anton Leonard op flank en Pierre Spies wat weer die pap dik aanmaak in die vaste los. Ons gaan vir Fourie du Preez en Morné Steyn terugkry en Derick Hougaard is ook verwoed besig om te oefen. As ons dan vir Meisiekind terugkry op senter met Zane Kirchner agter in die laaste vesting dink ek dat ons dinge kan omdraai.

Ek probeer ook om vir Jaco “Whacko” van der Westhuizen terug te kry sodat hy kan help met die bidkringetjies. Want Bakkies geniet dit altyd verskriklik om te bid voordat hy begin bliksem. Hy sê mos hoeka dat “hy speel Christelik want hy bliksem die hel uit die opponente uit”, haha Murray!

En net om seker te maak jong turke soos Jan Serfontein kry nie snaakse idees in die hitte van die stryd nie, gaan ons hulle in straightjackets laat speel sodat hulle nie onnodige kanse met die bal in die middeveld vat nie.

Dit gaan natuurlik alles afhang van ons akkuraatheid en die uitvoering van ons wedstrydplan, Oom Murray. Maar omdat ons gaan ophou agterlyn moves oefen, nes in die ou dae, sal ons meer tyd hê om up and unders te oefen sodat Zane en Akona weer heeltyd agter hulle kan aanhardloop soos malkop hoenders. Jus, en as ou Zane so met sy spykerkuite trippel en heeltyd met sy oop mond op die veld rondloop, klop my Bulle-hart darem warm!

Wat dink jy, Murray?

Groetnis,

Frans

 Oom Murray

Oom Murray sê: “Frans, jou ou planmaker! Not.”

Oom Murray antwoord:

Beste Frans,

Kan jy nog jou jare by Ellispark onthou toe jy die Leeus gebrei het? Hoe kak julle uitslae was? So kak dat hulle jou uiteindelik gefire het. Die geskiedenis, so lyk dit vir my, is besig om homself te herhaal.

Jy is dus in die twyfelagtige posisie dat jy waarskynlik die eerste afrigter in SA geskiedenis is om twee goeie unies te ruïneer. Dit wil gedoen wees. Maar jy’t vir ons gewys dat met genoeg deursettingsvermoë en passie, enigiets moontlik is.

Maar jou donker rugbywolk het darem is ook ’n silwer randjie, want solank as wat Pine Pienaar daar rondsluip, sal jy nooit die kakste coach in Pretoria wees nie. So my raad aan jou is om seker te maak dat hy nie gou iewers heen gaan nie.

Groete uit Stilbaai,

Oom Murray

3 Responses to Fun: Beste Murray – Ek moet plan maak met die Bulle

Users Online

Total 94 users including 0 member, 94 guests, 0 bot online

Most users ever online were 3735, on 31 August 2022 @ 6:23 pm