Voor die rugby met alle erns begin het ek dit goed gedink om die onderstaande storie oor kamp en vuurmaak te plaas. Dit moet vir ons ‘n les wees oor vriende, en as ons vir mekaar kwaad word gedurende die rugby tyd moet ons reflekteer oor die dinge in die lewe wat saak maak.

GENIET HOM!

Kamp en vuurmaak. Die twee goed is nogal sinoniem met mekaar. Die een sonder die ander een kan nie. Vir vuur kan jy nie gaan vervang met gas nie. Probeer maar ‘n geselskap aan die gang kry rondom ‘n gasvlam. Jou aand is van die begin af gedoem tot mislukking. ‘n Gasvlam is net daar vir ‘n vinnige oggend koffie, in alle geval. Of as die reën alles dood het en jy uit nood nie anders kon om ‘n kossie gaar te kry.

Nog ‘n ding wat ‘n kampvuur tot mislukking doem, is swak hout. Hierdie goed wat sommer so in 10 minute uitbrand en waarlangs jy nie eens stortwater gaan warm kry vir jou bosstort onder die oop sterre nie … ja, al maak jy die vuur letterlik bo-op die bloukan.

Jy kry ook verskillende soorte vure. Daar’s eerstens die lekker geselsvuur. Dis amper soos die klok wat lui in die kamp. Dan begin al die mense nader staan. Stoele word aangedra. ‘n Koue enetjie word gegooi. Die dag word bespreek en die gesels kom aan die gang. Dis die tyd wat die vuurtjie lekker voort knetter en hy besig is om rooi kole te bou. Maar die geselsvuur verander later in ‘n braai vuur. Dis dan wanneer jy die kole eenkant toe krap onder ‘n roostertjie in en jy jou vleisie stadig begin gaar kry. Dis ook die tyd dat jy die koue enetjie los en iets warmers begin soek soos ‘n knertsie en jy ‘n bottel rooi solank oopmaak vir die asemhaal. Die vuurtjie word nou dan en wan met ‘n stompie gevoer om lig te maak vir die braai aksie en om vir knertsie dop te hou.

So bietjie later word vuur ‘n eetvuur. Vuur kry so ekstra paar stukke hout vir lig maak by. Jy skuif nou ook daai blouwater kan wat bykans boepens van die hitte en waarmee jy later gaan stort bietjie verder weg. Die bottel rooi word ook nou nader getrek. Jy weet die lang haar Een in jou lewe geniet ook die braai want sy lag vir dieselfde grappie wat jy al vier aande in ‘n ry vertel. Die lewe is lekker. ‘n Lekker bord braaikos gemaak op ‘n mooi vuur iewers diep in die bos onder ‘n Afrika-sterrehemel; Liefiemens aan jou sy; jou stortwater warm en jou vuur brand mooi en jou maters het almal ‘n stille tevredenheid. En as jy klaar geëet het en klaar gestort het en alles opgewas is en die Langhaar Een is bed toe en jy dink aan ‘n kleine-kleine voor jy kooi toe en jy om die die rooi kole gaan sit saam met ‘n mater dan weet jy: Die aand lê nog voor, en daar gaan nog lank gepraat word en gedink word en die vuur was mooi en daar wag ‘n storie om vertel te word. Jy gaan hom nog lank onthou. En jou mater sê so van die kant af: “Nou is ek tevrede.” Dan weet jy die vuurtjie het sy werk gedoen en hy sal opgeskryf word in die boekie as ‘n onthou-vuur.

En môreoggend as jy wakker word en jy skop die assies weg van die diep kole af en jy gaan maak die een met die sagte hande wat jou bed deel wakker met ‘n lekker koppie koffie. Ja, jy kan dalk van hom ‘n renoster maak en so blerts amaroela bygooi. Daarom kies jy jou hout baie versigtig. Die ou grys hardekool bly ‘n wenner. Kameeldoring – daai ou met die donker pit en sy skurwe dikbas is onverbeterbaar. Rooibos – dié outjie gaan hou tot môre toe en jy bou mooi pap op hom. Sekelbos moet jy nooit weggooi – hy gaan jou vleisie mooi gaar maak.

Dan is daar ‘n paar ouens van wie jy weg bly. Tambotie – braai jy nou jou vleis op hom gaan jy môre die heeldag looppens hê. Bloekom is net genoeg vir ‘n paar vinnige vlamme in die kaggel. Vaalbos – nou ja, die ou gaan vaal bly. Lekkerbreek – hulle laat net die hoop hout groter lyk.

Soetdoring – gooi maar so stompie of twee op want hy ruik so lekker. Ek ken hout nou nie so goed nie, maar voor jy vuur maak met hom, kyk hom eers en voel hom. Weeg hom in jou hand. Hy moet swaar wees. En as hy nou daar eenkant lê en jy sien hy het karakter, los hom maar net daar, moet hom nie brand. Hy moet nog vir ander na jou ook mooi lyk.

En dan wonder mens: Moet jy nie ook maar jou vriende gaan kies soos jy jou hout kies nie? Daar is van hulle… hierdie vriende van jou wat grys lyk aan die buitekant maar wat lank gaan brand as die nag koud geword het. Ander vriende het skurwe baste, maar met sy taai pit gaan hy jou nie in die steek laat as jy lig en hitte in jou lewe nnodig het.

Almal van hulle… hierdie vriende van jou… het maar iewers ‘n bars en ‘n kraak en ‘n knoets, maar hulle is jou laataand vriende wat ‘n lang nag kort kan praat en op wie jy kan staatmaak as die winter skielik daar is.

Weeg jou vriende in die hand. Weeg hulle aan die waarde wat hulle toevoeg. Weeg hulle aan hulle inbors en hulle karakter. Weeg hulle aan die manier waarop hulle hulle vrouens en nooiens hanteer. Weeg hulle aan die manier waarop hulle gaan regop staan as die swaar en die moeilik op die pad kom.

Daar is maar mense wat vinnig gaan brand en geen hitte agterlaat en geen merk los op jou lewe nie. Hulle is net genoeg vir een aand se vinnige kaggelvuurtjie. Daar is selfs die wat jou ‘n looppens gaan gee. Loop weg van hulle af.

Ander van hulle gaan die geur gee in jou menswees. Gooi ‘n paar van hulle op jou lewensvuur. Maar een ding… kies maar jou hout versigtig.

2 Responses to Kamp en vuurmaak

  • 1

    Waar woorde…

    Ek sê ALTYD ek het baaaaaie kennisse, maar my ware vriende tel ek op my twee hande, met vingers te spaar!

  • 2

    Dankie Snoek ek het dit geniet. En aan my vrinne…baie geluk vir julle spanne voor die “games” begin. Ek gaan sit en watch op my nuwe swart leer sitkamer stel met die pienk kussings gemaak van recycled Blou Bulle. :Congratulations–Baby-Girl:

Users Online

Total 63 users including 0 member, 63 guests, 0 bot online

Most users ever online were 3735, on 31 August 2022 @ 6:23 pm