KingPaul,  WP korrespondent 

Die Westelike Provinsie se Curriebeker-rugbyspan het ’n groot terugslag beleef voor sy wedstryd vandag hier teen Griekwas.

Die Streeptruie se losskakel, Willem de Waal, is beseer en kan tot twee maande lank buite aksie wees. Peter Grant is vandag hier op GWK-park die losskakel vir die WP.

Die Streeptruie is een van die spanne wat die Noord-Kapenaars op hul tuisveld bloedneus kan gee, maar met De Waal se besering boet die besoekers heelwat taktiese skopvernuf in.

Met Grant die losskakel, sal Morgan Newman nou binnesenter speel.

Sarel Pretorius (skrumskakel), Naas Olivier (losskakel) en Riaan Viljoen (heelagter) sal Grant onder dieselfde soort druk wil plaas as wat vir “Generaal” De Waal beplan is.

Die WP het sy een weg-wedstryd tot dusver vanjaar verloor en is daarom onder druk om nou ’n weg-sege te behaal.

Die WP het Griekwas verlede seisoen met gemak op Nuweland geklop, maar die Diamantstad was op sy beurt ’n begraafplaas vir die Streeptruie.

Die voormalige WP-haker Charl Marais meen die besoekers sal opgewasse wees.

“Die WP behoort die knoop deur te hak. Dit is myns insiens een van Griekwas se groter toetse dié. Dit gaan ’n baie taai wedstryd wees. Griekwas sal hope selfvertroue hê. Sy gestruktureerde speelstyl maak van hom ’n gevaarlike teenstander,” het Marais gesê.

’n Fisieke voorspelerstryd word voorspel. WP het onder andere Chris Jack (slot), Brock Harris (stut) en Tiaan Liebenberg (haker) wat die pap voorlangs dik kan aanmaak. Griekwas kan hom ook voorberei vir ’n rolmaal-aanslag deur die Streeptruie en sal by die afbreekpunte beproef word deur Luke Watson, Duane Vermeulen en Francois Louw.

Jonathan Mokuena (agtsteman en kaptein) en sy flanke, Davon Raubenheimer en Rohan Kitshoff, het hulle reeds bewys en hul tweestryd met die WP-lostrio beloof om rugby vir die fynproewer op te lewer.

Edrich Lubbe, ’n voormalige senter van die Poubloues, meen Griekwas het ’n baie goeie kans om die WP te klop. “Hulle is goed op dreef en het wen-momentum; en die span het baie karakter en min swak punte.

“Hulle het twee sterk unies, die Vrystaat-Cheetahs en die Leeus, weg van die huis af geklop en is op die kruin van die golf,” het Lubbe gister gesê.

Die spanne is:
Griekwas: Riaan Viljoen, Egon Seconds, Jaco Bekker, Barry Geel, Bjorn Basson, Naas Olivier, Sarel Pretorius, Jonathan Mokuena (k), Davon Raubenheimer, Rohan Kitshoff, Jacques Lombaard, Brendon Snyman, Ruaan du Preez, Rayno Barnes, Albertus Buckle. PLAASVERVANGERS: Andries Kruger, Steph Roberts, Heinrich Stride, Sean Plaatjies, Hanno Coetzee, Gavin Passens, Dewald Pretorius.

Westelike Provinsie: Joe Pietersen, Tonderai Chavhanga, Juan de Jongh, Morgan Newman, Gio Aplon, Peter Grant, Dewaldt Duvenage, Puke Watson (k), Duane Vermeulen, Francois Louw, Anton van Zyl, Chris Jack, Brock Harris, Tiaan Liebenberg, Wicus Blaauw. PLAASVERVANGERS: Deon Fourie, JD Möller, Adriaan Fondse, Conrad Hoffman, Paul Bosch, Frikkie Welsh.

Skeidsregter: Craig Joubert.
 

507 Responses to WP sonder Willem teen Griekwas

Users Online

Total 21 users including 0 member, 21 guests, 0 bot online

Most users ever online were 3735, on 31 August 2022 @ 6:23 pm