KingPaul 

Kaapstad – Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) is vol moed dat hy vrygespreek sal word op die aanklagte teen hom wat spruit uit die Springbok-span se armband-protes verlede maand teen Bakkies Botha se skorsing.

Saru, die Springbok-span en die Bokke se bestuur, het eergister voor ’n tugkomitee van die Internasionale Rugbyraad (IRR) verskyn. Uitspraak is voorbehou ná ’n marathon-verhoor van langer as nege uur.

Die individue wat die Bokke se optrede op 4 Julie tydens die derde toets teen die Britse en Ierse Leeus voor die IRR-tugkomitee moes gaan verduidelik, is die president van Saru, Oregan Hoskins, die waarnemende besturende direkteur van SA Rugby, Andy Marinos, Saru se kommunikasiebestuurder, Andy Colquhoun, die Springbok-afrigter, Peter de Villiers, en die Bok-kaptein, John Smit.

Die soms omstrede De Villiers het in Afrikaans getuig en ’n tolk het sy getuienis aan die drie lede van die tugkomitee – sir John Hansen van Nieu-Seeland (voorsitter), regter Guillermo Tragant van Argentinië en die oud-Wallaby-rugbykaptein John Eales – vertaal.

Volgens betroubare inligting het Saru Maandag die aanklag dat hy die spel in oneer gebring het op twee gronde beveg.

Saru het eerstens aangevoer dat die IRR se tugkomitee nie die jurisdiksie het om die aanklag teen hom aan te hoor nie. Alternatiewelik het Saru aangevoer dat die Springbok-span in solidariteit met Botha opgetree het en geensins die tugproses teen die vurige Bok-slot bevraagteken het nie.

Sport24 verneem Saru betwis die tugkomitee se jurisdiksie op grond daarvan dat die IRR se uitvoerende hoof, mnr. Mike Miller, glo persoonlik die tugoptrede teen die Bok-span gelas het.

Volgens die IRR se regulasies kon Miller skynbaar slegs enige tugoptrede gelas het indien ’n aanbeveling in dié verband aan hom gemaak is. Só ’n aanbeveling kan slegs deur die aangewese tugbeampte vir die betrokke wedstryd gemaak word.

Uitspraak in die saak word op die vroegste einde vandeesweek verwag, maar Saru is vol moed dat hy vrygespreek sal word omdat duidelike regulasies rakende die tugproses verbreek is.

2 Responses to Uitspraak in Saru tugsaak voorbehou

Users Online

Total 21 users including 0 member, 21 guests, 0 bot online

Most users ever online were 3735, on 31 August 2022 @ 6:23 pm