Inhoud deur J.J. HARMSE

Met die Wallabies as teenstanders in die volgende drie wedstryde in die Drienasies-rugbyreeks, gaan die Springbokke van vandag af met ’n heeltemal nuwe aanslag begin voorberei.

Die Australiërs gaan ander eise aan die Suid-Afrikaners stel en hulle sal nie net takties hul spel moet aanpas nie. Peter de Villiers sal ook sy troepe sodanig moet rangskik dat ’n sege Saterdag op Nuweland in Kaapstad ’n gegewe word.

Die Bok-breier kan egter nie veel aan sy span verander nie. Ruan Pienaar sal waarskynlik beskikbaar wees vir die kragmeting in die Kaap, maar dit sal verregaande wees om hom weer losskakel te laat speel.

Morné Steyn se droomseisoen en sy uitstekende skopwerk in Saterdag se toets hier teen die All Blacks gaan dít vir De Villiers onmoontlik maak om die nommer 10-trui weer aan Pienaar toe te vertrou.

Steyn het nou die momentum aan sy kant en solank dit pap reën vir dié Bulls-speler, moet die Springbokke skep.

De Villiers het twee keuses. Hy kan Pienaar nog ’n week laat rus en seker maak hy is slaggereed vir die oorsese deel van die Drienasies-reeks, of hy kan dié Nataller as plaasvervanger kies. In só ’n geval behoort hy Ricky Januarie te vervang.

Met Pienaar op die bank, het De Villiers ook die luukse om vyf voorspelers te kies, sou hy dit só verkies.

Die Bokke se aanslag sal sekerlik by die Wallaby-skrum begin en die fokus sal op rolmaal-bewegings wees.

Die Bok-kaptein, John Smit, het ná die oorwinning van 31-19 oor Nieu-Seeland erken dat hulle glad nie die rolmaal wou gebruik nie, maar dit sal verander teen ’n teenstander wat nie so bekend is vir sy inklimspel voorlangs nie.

Die hoogskop-taktiek wat so uitstekend teen die All Blacks se agterste driehoek gewerk het, gaan ook nie dieselfde vrugte dra teen die Aussies nie.

Dié spelers is veel vaardiger wat die vang van balle uit die lug betref en hul skopwerk is ook aansienlik beter as wat die Nieu-Seelanders kon opdis.

Met Matt Giteau op losskakel het die besoekers ook ’n angel van wêreldgehalte, iets wat Graham Henry (All Black-afrigter) nie beskore was in Stephen Donald nie.

“Die Aussies gaan beslis ’n ander dier wees,” het De Villiers erken.

“Ons doen egter die regte dinge deurdat ons voorbereiding baie deeglik is en dit daarna ook op die veld uitgevoer word.”

De Villiers het weer die wenkbroue laat lig toe hy Jean de Villiers met Adi Jacobs vervang het. Jacobs se spel as binnesenter is nie van dieselfde gehalte as wanneer hy buitesenter speel nie.

Boonop is sy verdediging in daardie kanaal verdag.

Die All Blacks het met sukses in die middelveld aangeval, maar dinge lyk veel beter as teen die Britse en Ierse Leeus toe Jamie Roberts en Brian O’Driscoll groot bresse geslaan het.

Die Bokke se lakwerk oor die algemeen is steeds een van hul beste wapens. Altesame 82 suksesvolle duikslae is teen die Kiwi’s uitgevoer en 16 verbrou, maar dis die span se vermoë om vinnig te herorganiseer wat hom só suksesvol maak.

Die Bokke het vandag ’n afrigtingskliniek in Wellington en oefen môre in Groenpunt.

331 Responses to Nou vir operasie Wallaby: Bokke sal visier anders stel in Kaap

Users Online

Total 28 users including 0 member, 28 guests, 0 bot online

Most users ever online were 3735, on 31 August 2022 @ 6:23 pm