Gert van der Westhuizen (Rubriek Beeld)

Suid-Afrikaanse rugby-ondersteuners word nie maklik tevrede gestel nie.

Kyk nou maar net hoe kla baie van hulle hier halfpad deur die Drienasies-reeks. Dit boonop, om die ou spreekwoord so effe aan te pas, as’t ware met die Wêreldbeker onder die arm.

Die Bokke is tot dusver onoorwonne in die Drienasies-reeks nadat hulle die All Blacks vir die eerste keer sedert 1976 in twee agtereenvolgende toetse in Suid-Afrika geklop het.

’n Week later het hulle ook op kusvlak met die veel slimmer Australiese span afgereken. Trouens, in dié wedstryd het dit nooit gelyk asof die Bokke gaan verloor nie, nie eens toe die Aussies reg aan die begin ’n drie gedruk het nie.

Hulle moes eintlik veel verder gewen het. Die telling in die twee toetse teen die All Blacks het die Nieu-Seelanders ook gevlei.

Die seges volg natuurlik op die eerste reeksoorwinning oor die Britse en Ierse Leeus sedert 1980.

Vir die klakouse is dit egter nie goed genoeg nie.

Die Bokke speel dom, word gebrom. En hul spel is vervelig, verbeeldingloos en onaanskoulik.

Hulle skop en storm net en hoop die bal spring verkeerd vir hul teenstanders.

Dit is tipiese Blou Bul-rugby, word natuurlik ook gesê in ’n land waarin provinsialisme vir ewig en altyd met ons sal wees. (Dit terwyl die Bulls in die Super14-eindstryd amper meer drieë gedruk het as wat sommige spanne in ’n seisoen kon doen.)

Die klaagliedere word gehoor in ’n land waarin oorwinnings oor die All Blacks sedert 1992 so skaars was soos die spreekwoordelike kiwitande.

Dit is natuurlik ook ’n land wie se nasionale span al twee Wêreldbeker-eindstryde gewen het sonder om ’n enkele drie te druk. (Boonop was die skoppery in die eerste van die eindstryde in 1995 nogal by tye erg.)

Boonop is dit ’n land waarin aanskoulike rugby nooit juis ’n nasionale karaktertrek was nie.

Rugby in Suid-Afrika (lees Bok-rugby) was nog altyd ’n spel waarin die grondslag deur die voorspelers gelê is en oorwinnings afgerond is deur losskakels wat kon skop.

Daar was wel oomblikke van briljantheid soos drieë van Mannetjies Roux, Jannie Engelbrecht, Gerrie Germishuys en Bryan Habana, om ’n paar te noem, getuig.

Maar toetsrugby het nog altyd vir Suid-Afrika oor wen gegaan. Dit maak nie saak hoe jy wen nie, solank jy net wen.

Soos iemand op ’n keer tereg gesê het: Die telbord het nie ruimte vir opmerkings nie. Dit het net plek vir die telling.

Dit is nie net Suid-Afrika wat graag toetse wil wen nie. Nieu-Seeland wil ook. En Australië én Engeland én Wallis én?.?.?.

Om dit reg te kry, speel jy volgens jou sterk punte. Suid-Afrika doen dit vanjaar baie goed.

Dit is nie nodig om die bal rond te gooi en aan die hardloop te gaan en drieë te probeer druk as jy op ander maniere kan wen nie.

Die Australiërs het in Kaapstad twee drieë teenoor die Bokke se een gedruk en verloor.

Dieselfde het met die Bokke in die reeks van 1997 teen die Britse en Ierse Leeus gebeur toe hulle meer drieë as die wenners gedruk het.

Toe Harry Viljoen die Bok-afrigter was, het hy skoppe in ’n stadium verbied. Toe is daar óók gekla.

Die Bokke het pragtige drieë gedruk in die eerste seisoen wat Rudolf Straeuli hulle afgerig het. Hulle het verloor en laaste in die Drienasies-reeks geëindig.

Toe is daar wéér gekla.

Die klakouse moet die Bokke dalk nou maar los en eers weer begin kerm as hulle verloor.

Geniet dit eerder terwyl die span wen.

Dit is nou nie juis asof Suid-Afrika elke tweede jaar die gunsteling is om met die Drienasies-kroon weg te stap of die All Blacks behoorlik opdons nie?.?.?.

5 Responses to Klakouse moet Bokke los

  • 1

    kla janne

  • 2

    Klakous Janne…

  • 3

    @Ed_the_Lion

    Dit was vinnig!

  • 4

    Die ou het n punt beet. As Bok ondersteuners kla ons te veel en is ons te veel negatief. Dis omdat ons altyd wil VER wen.
    Wanneer laas het ons die Wereld beker, die s14, BIL, Sewes en moontlik die Drie-nasies trofee in SA gehad? Nog nooit…

  • 5

    Ek onthou destyds hoe het Harry Viljoen gese hulle mag nie n bal skop nie…hehe…dit was chaos!
    Vir my gaan dit oor wen. Ek verkies n “lelike” wen enige tyd bo n “pragtige” verloor.
    Maak seker die Bokke wen. As die Bokke mooi driee druk terwyl hulle wen, is dit n bonus. Wereldbeker trofees word nie met hardloop rugby gewen nie.

Users Online

Total 44 users including 0 member, 44 guests, 0 bot online

Most users ever online were 3735, on 31 August 2022 @ 6:23 pm