Gaan die Westelike Provinsie se afrigter, Allister Coetzee, dapper wees en JJ Engelbrecht in sy beginspan vir Saterdag se Curriebeker-rugbywedstryd op Nuweland teen die Leeus insluit?

Engelbrecht het sy breier met ’n aangename tameletjie opgesaal deur sy kans in Saterdag se sege van 38-7 oor die Boland-Kavaliers in Wellington aan te gryp en in die doodsnikke ná goeie werk deur Gio Aplon en Juan de Jongh af te rond.

“Dis wonderlik om in jou buiging ’n drie soos daardie te druk,” het Coetzee ná die wedstryd gesê.

“Ek het vantevore al gesê hy het potensiaal en ons moet die jong spelers kans gee terwyl ons wen en daar ’n goeie atmosfeer heers.

“Dit beteken hulle kom in ’n span in waar die selfvertroue hoog is. Sy selfvertroue sal saam met die span s’n groei. Dit was goed om te sien waartoe hy in staat is.”

Engelbrecht se puik tien minute op die veld as plaasvervanger saam met De Jongh se volgehoue ontwikkeling in die middelveld beteken die WP se veldtog slaag op meer as een vlak.

Die Streeptruie is derde op die Curriebeker-puntelys en lyk goed op dreef vir ’n plek in die halfeindronde, maar van sleutelbelang is dat ’n generasie jong spelers besig is om te wys van watter stoffasie hulle gemaak is.

Coetzee sal natuurlik in ag neem dat die Leeus Saterdag ’n baie moeiliker uitdaging as die Boland bied. Daarom sal hy seker versigtig trap alvorens hy sy span van die ervaring van een van die agterste driehoek, bestaande uit Joe Pietersen, Aplon en Tonderai Chavhanga, ontneem om ’n 20-jarige in ’n druksituasie in te span.

Die ander kant van die saak is dat Engelbrecht ’n fisieke teenwoordigheid bring en lyk of hy die potensiaal het om aanstaande jaar in die Super14-reeks ’n faktor te wees.

Intussen lyk die WP goed op pad na die halfeindronde van die Curriebeker-reeks, maar dit is terselfdertyd moeilik om werklik ’n oordeel oor Saterdag se sege te vel.

’n Man wil aan die een kant nie met die witbrood van ’n bonuspunt-sege onder die arm kla nie, maar terselfdertyd het die WP in die eerste helfte verbeeldinglose agterspel gelewer.

Die Boland het die WP ook soms by die afbreekpunte gefrustreer en die Leeus gaan in die meeste fasette hewiger teenstand bied. Coetzee was nietemin Saterdagaand tevrede.

“Dit was werklik positief om vyf drieë te druk en vyf ligapunte te kry.

“Dit was ons eerste wegsege in ons veldtog. Ons moet daarop voortbou. Dís die klein uitdagings wat jy na die volgende wedstryd oordra,” sê Coetzee.

“Dit gaan nóg ’n harde uitdaging teen die Leeus wees. Ons nader nou die halfpadmerk en toon goeie vordering.”

Wat die Leeus betref, is hulle ná die naweek se nederlaag teen die Haaie onder groot druk om binne trefafstand van die top-vier te bly. Hulle ontbreek gehalte in sleutelposisies, maar daar sal geen tekort aan motivering wees nie.

2 Responses to JJ laat Allister met tameletjie

Users Online

Total 242 users including 0 member, 242 guests, 0 bot online

Most users ever online were 3735, on 31 August 2022 @ 6:23 pm