Rudolph Lake, Johannesburg

Daar is nog geen duidelikheid nie oor waar die Springbok-senters Jaque Fourie en Jean de Villiers die res van die jaar hul rugby gaan speel.

Fourie het die Goue Leeus-Rugbyunie (GLRU) geruime tyd gelede gevra om hom van sy verpligtinge by dié unie vry te stel sodat hy groener weivelde kan gaan soek, terwyl De Villiers die Westelike Provinsie vir Munster wil verruil.

Manie Reyneke, uitvoerende hoof van die GLRU, het gister aan Rapport bevestig dat hy ’n brief van Fourie se prokureur, Frikkie Erasmus, ontvang het waarin Fourie vra dat hy toegelaat word om die Leeus te verlaat.

Maar volgens Reyneke is die GLRU egter nie bereid om Fourie van sy verpligtinge vry te stel nie en hou hulle vol dat hulle ’n geldige kontrak met Fourie het tot einde Oktober aanstaande jaar.

Erasmus het gister gesê hy wag nog om amptelik van die GLRU te hoor, maar dat die geskil oor Fourie se dienste vandeesweek op die spits gedryf sal word. Dit blyk dat Fourie ’n dispuut met die GLRU gaan verklaar en dat Erasmus en die Leeus-senter hulle na die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se regskomitee gaan wend vir ’n beslissing oor die geldigheid van die speler se kontrak.

Erasmus sê die WP het Fourie nog geen skriftelike aanbod gemaak nie omdat hulle wag op duidelikheid oor sy beskikbaarheid. Volgens Erasmus sal die WP egter beslis in Fourie se dienste belangstel sou hy na die Kaap kan verhuis.

Intussen het die Ierse klub Munster nog nie die oordragfooi betaal wat die WP van hulle wil hê om De Villiers van sy Streeptrui-kontrak vry te stel.

Weens die onduidelikheid oor Fourie se beskikbaarheid, asook die slegte nuus dat die Blou Bul Wynand Olivier besluit het om in Pretoria te bly, kan die WP hulle in ’n tameletjie bevind wat senters betref.

Rapport verneem dat sommige Kaapse rugbybase daarom nie meer so geneë is om De Villiers dadelik van sy kontrak met hulle, wat tot einde Oktober strek, vry te stel nie.

De Villiers was die afgelope naweek in Ierland en keer môre na Suid-Afrika terug. Hy sal dan glo hoor wat die finale besluit oor sy beoogde skuif na Munster is.

Die Du Plessis-broers Jannie en Bismarck onderhandel glo nog met die Haaie oor die verlenging van hul kontrakte met dié unie.

Na verneem word stel verskeie provinsies en oorsese klubs belang in die dienste van dié twee Bok-broers, wat graag by die Natalse unie wil bly, maar glo nie te gelukkig is oor die min speelkans wat Jannie kry nie.

Die Springbok-kaptein, John Smit, en Jannie ding om ’n plek in die span mee.

9 Responses to Groot toutrek oor Jaque; en die WP dink weer oor Jean

Users Online

Total 21 users including 0 member, 21 guests, 0 bot online

Most users ever online were 3735, on 31 August 2022 @ 6:23 pm