STEPHEN NELL

KAAPSTAD

Die Springbok-senter Jaque Fourie se plan om hom by die Westelike Provinsie aan te sluit sal vandag vet op die vuur wees in die Streeptruie se Curriebeker-rugbywedstryd teen die Goue Leeus op Nuweland.

Die Leeus gaan nie net verwoed baklei om hul veldtog op koers te hou nie, maar min dinge sal hulle meer genot verskaf as om die WP ’n bloedneus te gee.

Hierdie is immers twee unies wat nie ooghare vir mekaar het nie en die toutrekkery oor Fourie is maar net die jongste episode in ’n sepie waarin die wedywering van die veld af al lelik geraak het.

Die Springbok-vaskopstut Brian Mujati het ook die Leeus die rug toegekeer om hom op ’n omstrede wyse by die WP aan te sluit.

En wie sou die drama rondom die Rose-broers (Earl en Jody) se besluit om Johannesburg toe te trek, kan vergeet? Die WP het nooit gedink hulle gaan die Rose-boeties kwyt wees nie – veral nie nadat daar glo reeds ’n mondelinge ooreenkoms was om hul dienste te behou nie – maar toe tref die slegte tyding een aand.

Earl Rose speel terloops vandag heelagter vir die besoekers in ’n wedstryd wat hulle onder groot druk is om te wen. Die Leeus het tot op hede ewe veel wedstryde gewen as verloor.

Hulle móét eenvoudig wen om binne trefafstand van die voorlopers te bly.

Op hul beurt is die WP daarop uit om die eerste ronde van vanjaar se CB-reeks onder die voorste spanne af te sluit.

Die twee spanne bo hulle – Griekwas en die Haaie – meet vandag in Durban kragte.

Dit is dus vir die Streeptruie ’n realistiese doelwit om ná vandag tweede op die puntelys te lê.

Ofskoon niemand die Leeus onderskat nie, is dié ’n wedstryd wat die WP behoort te wen.

Sy kanse om dit te doen, het gister verstewig met die nuus dat die losskakel Peter Grant nie meer las het van spierspasmas in die rug nie. Sonder Grant sou die WP geen ander keuse gehad het nie as om die talentvolle, maar onervare Conrad Hoffman as losskakel in te span.

Die Leeus, wat reeds ’n tekort aan diepte het (nóg meer so nadat die slot Anton van Zyl hom vroeër vanjaar by die WP aangesluit het!), is boonop sonder staatmakers soos die flank Cobus Grobbelaar en die agtsteman Willem Alberts.

Dis nog twee redes waarom die WP as volslae gunsteling op die veld draf, maar in kragmetings waar die gemoedere hoog kan loop, wil jy nie met groot bravade voorspellings waag nie.

)?Die spanne is:

WP: Joe Pietersen, Tonderai Chavhanga, Juan de Jongh, Morgan Newman, Gio Aplon, Peter Grant, Dewaldt Duvenage, Luke Watson (k), Duane Vermeulen, Francois Louw, Anton van Zyl, Adriaan Fondse, Brock Harris, Tiaan Liebenberg, Wicus Blaauw. PLAASVERVANGERS: Deon Fourie, JD Moller, Chris Jack, Pieter Louw, Conrad Hoffman, Frikkie Welsh, JJ Engelbrecht.

Leeus: Earl Rose, Dusty Noble, Alwyn Hollenbach, Doppies la Grange, Henno Mentz, Herkie Kruger, Jano Vermaak (k), Todd Clever, Franco van der Merwe, Derrick Minnie, Willem Stoltz, Nico Luus, Gert Muller, Hans van Dyk, JC van Rensburg. PLAASVERVANGERS: Derek Harwood, Kevin Buys, Johan Snyman, Johan van Deventer, Chris Jonck, Ruan Boshoff, Pieter Engelbrecht.

Skeidsregter: Mark Lawrence.

Grensregters: Ben Crouse, Eugenia Daniels.

TV-skeidsregter: JC Fortuin.

Verwagte toestande: Deels bewolk met ’n sterk suidooster; 18ºC.

31 Responses to Fourie se oorlopery is vet op die vuur

Users Online

Total 20 users including 0 member, 20 guests, 0 bot online

Most users ever online were 3735, on 31 August 2022 @ 6:23 pm