Met die Boland-stadion wat die begraafplaas van die vorige afrigtingspan van die Westelike Provinsie was, is dit geen verrassing nie dat Saterdag se Curriebeker-rugbystryd teen die Kavaliers deur Allister Coetzee as ’n “sielkundige uitdaging” beskryf is.

Coetzee en die man aan wie hy rapporteer, Rassie Erasmus, het hul poste as WP-breiers vandag deels te danke aan die feit dat die Streeptruie twee jaar gelede met 10-15 in nat toestande teen die Boland in Wellington verloor het.

Die WP gaan sekerlik nie vandeesweek verloor nie, maar die sielkundige aspek kom weer eens na vore wanneer in gedagte gehou word dat hy verlede jaar ná ’n nederlaag van een punt teen Griekwas die volgende week teen die Valke die knie gebuig het.

Dit reën vandeesweek wéér in die Kaap en die WP het verlede Vrydag wéér met een punt teen Griekwas verloor.

As jy bygelowig is, voorspel dit niks goed vir die WP nie!

Ons kan die WP seker maar daarom vergewe as hy vandeesweek effens gespanne is.

Dit sal ten minste beteken dat daar geen oorgerustheid is teen ’n klein span wat leef daarvoor om sy ryk bure te klop nie.

“Die Boland is altyd onvoorspelbaar en gaan lê nooit nie,” sê Coetzee oor die Kavaliers. “Hulle speel met ongelooflike selfvertroue in Wellington en dit kan hul seisoen maak om ’n span soos die WP of Blou Bulle te klop.”

Die WP gaan vir ’n rukkie nog sonder die dienste van die losskakel Willem de Waal wees. Hy het glo ’n nekbesering wat hom vir die volgende klompie weke langs die kantlyn gaan hou.

Coetzee het gister geweier om die aard van die besering te bevestig omdat dit glo “vertroulike inligting” is, maar wel genoem De Waal bly langs die kantlyn.

Peter Grant is dus die logiese keuse om weer op losskakel te begin, hoewel ’n mens nie kan help om te wonder waarom hy nie uit die staanspoor teen Griekwas die stelskopwerk behartig het nie.

“Peter het nie verlede Maandag geoefen nie. Hy het swelling om sy enkel gehad. Joe Pietersen is ons ander skopper en ons laat dit aan die spelers oor om tussen hulle te besluit wie die gemaklikste oor die taak voel,” sê Coetzee.

Die WP sal baie gemakliker kan voel as Grant pale toe korrel, want hy handhaaf ’n slaagsyfer van goed bo die 70%. Hy is na verneem word beskikbaar om te speel.

Met De Waal uit, sal die WP waarskynlik ook sy taktiese benadering effens aanpas. Die WP het beslis op sy gevaarlikste gelyk toe hy teen Griekwas die bal in die hand gehou het.

Nietemin kan ’n herhaling daarvan seker afhang van die weer en hoe die Boland-sta­dion se speeloppervlak lyk.

8 Responses to Déjà vu vir Streeptruie?

Users Online

Total 39 users including 0 member, 39 guests, 0 bot online

Most users ever online were 3735, on 31 August 2022 @ 6:23 pm