‘Shadow’ kan hakskene vir blitsige Jongi wys

J.J. Harmse
PretoriaTerwyl die son dreig om vinniger as ooit oor die Cheetahs se drome in die Curriebeker-reeks te sak, hoop die Blou Bulle om Vrydag op Vodacompark in Bloemfontein ’n verdere skaduwee daarop te gooi wanneer hulle teen die Vrystaat speel.

Dié skaduwee, oftewel Shadow, kom in die gedaante van ’n 20-jarige blits op regtervleuel, Gerhard van den Heever. Hy is nie net die voorste driedrukker in die Absa-Curriebekerreeks nie, maar sy aansprake om selfs vinniger as die Vrystaat se Jongi Nokwe te wees, blyk vol meriete te wees.

Sy bynaam kom van sy vaart, want dit is blykbaar al wat ’n mens van hom kan sien as hy op volspoed is.

Van den Heever het Vrydagaand die skare op Loftus verstom toe hy die Bolandse spoedvraat Deon Scholtz skuins van agter ingehardloop en ’n sekere drie gekeer het. Twee drieë deur hom gedurende dié wedstryd het sy drieëtal tot vyf opgestoot en hy mik om dit meer te maak.

Van den Heever het homself klaar as ’n Loftus-held bemind gemaak deur in sy Super14-debuutwedstryd vir die Bulls vroeër vanjaar teen die Stormers vir Luke Watson gras te laat proe.

Waar Van den Heever as 20-jarige dreig om die nuwe held te word, gaan ’n paar ou hande op die regte plekke die Bulle se aanslag help versterk.

Pedrie Wannenburg sal as agtsteman teen die Cheetahs uitdraf, terwyl Jacques Burger en Deon Stegmann sy losvoorspeler-maats behoort te wees.

Wannenburg en Stegmann het albei ná beserings as plaasvervangers teen die Boland gespeel en gewys hulle is weer fiks.

Francois Hougaard behoort ook reg te wees ná sy lies hom uit die wedstryde teen die Haaie en Boland gehou het.

Hy het nie gister se oefening voltooi nie, maar die spandokter, Org Strauss, is vol vertroue dat hy Donderdag saam op die vliegtuig sal klim.

Hougaard kan as skrumskakel speel as Heini Adams se rugspasma nie betyds opklaar nie.

“Mini (Adams) het ’n knie in die rug gekry en hy het nou ’n spierspasma. Ons sal kyk hoe hy op behandeling reageer,” sê Strauss.

Die Bulle se afrigter, Frans Ludeke, maak vandag sy span bekend. Hy het ’n paar moeilike keuses om te maak.

• Johánn Thormälen berig dat ondanks ’n middelmatige spelpeil wat geen oorwinnings kon oplewer nie, word die Vrystaat-Cheetahs se diepte boonop behoorlik weens beserings getoets.

Die Blitsbok Lionel Mapoe het Vrydag ’n knie in die wedstryd vir die Cheetahs se o.21-span teen die Haaie beseer en sal straks lank langs die kantlyn wees.

Hendro Scholtz (kaptein en flank) het teen die Haaie sy elmboog beseer en sal ook nie teen die Ligbloues speel nie.

Benewens dié beserings, is Tewis de Bruyn (skrumskakel, skoueroperasie) en Kobus Calldo (stut; ribbesering) ook langs die kantlyn.

Die Bulle se span kan só lyk: Tiger Mangweni, Gerhard van den Heever, Jaco Pretorius, Stefan Watermeyer, Marius Delport, Francois Brummer, Francois Hougaard, Pedrie Wannenburg, Deon Stegmann, Jacques Burger, Wilhelm Steenkamp, Flip van der Merwe, Werner Kruger, Derick Kuün, Gurthrö Steenkamp.

33 Responses to Cheetahs/Bulls

Users Online

Total 53 users including 0 member, 53 guests, 0 bot online

Most users ever online were 3735, on 31 August 2022 @ 6:23 pm